Quantcast
Channel: Resepte – Landbou
Viewing all articles
Browse latest Browse all 268

Plaaskombuis 5: Koningskos in die Kamiesberg

$
0
0

Vir Berto en Sulene Archer van die plaas Taaiboskraal, doer hoog bo Kamieskroon in die Kamiesberg, is daar niks lekkerders as hul kontrei se plaaskos nie. As jy eers Sulene se afval en boermeelplaasbrood geproe het, sal jy saamstem!

Sulene bak haar wonderlike, tuisgemaakte brood met ’n mengsel van boermeel (koring wat net gemaal is en glad nie verder verwerk is nie) en broodmeel.

Die geur en tekstuur van boermeelbrood is wonderlik. Pap wat van boermeel gekook word, is ook ’n bekende ontbytkos in die streek. As jy nie boermeel in die hande kan kry nie, vervang dit met dieselfde hoeveelheid bruinbroodmeel.

Boermeel-plaasbrood
■ 5 x 250 ml (5 k) boermeel
■ 3 x 250 ml (3 k) witbroodmeel
■ 10 ml sout
■ 15 ml suiker
■ 1 pakkie (10 g) kitsgis
■ 30 ml asyn
■ 1 liter louwarm water
■ Koringkorrels of gemengde sade, om oor te sprinkel

Smeer of bespuit twee broodpanne goed met kleefwerende kossproei – die brood is geneig om vas te sit. Meng die boermeel, witbroodmeel, sout, suiker en kitsgis saam. Meng die asyn met louwarm water en voeg dit by die meelmengsel. Roer die mengsel vir ongeveer 5 minute met ’n houtlepel. (Dit moet ’n slapperige mengsel wees. Voeg nog water by as die deeg te styf is.) Skep in twee middelslag-broodpanne en maak jou panne toe met ’n geoliede sak. Sit dan in ’n kombers en laat dit vir 20-30 minute op ’n warm plek rys tot die panne vol gerys is. (Aangesien die deeg slap is, is dit geneig om aan die sak vas te kleef. As dit gebeur, skraap die deeg met ’n deegskraper af.) Terwyl die deeg rys, voorverhit die oond tot 180 °C. Sprinkel ’n bietjie koring of gemengde sade oor die uitgerysde deeg en bak die brode vir ongeveer 1 uur tot goudbruin, deurgaar en uitgerys. Lewer 2 brode.

MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 268