Die kerrie proe of jy ure daaraan bestee het. Niemand sal jou glo dat dit jou letterlik 10 minute gekos het om saam te slaan en dat ’n paar blikkies deel is van die lys bestanddele nie. Die tamatie-en-uiesalsa sorg vir ’n vars geurinspuiting.
■ 15 ml olyfolie of botter
■ 2 uie, dun gesny
■ 2 knoffelhuisies, fyn gedruk
■ 1 blik (420 g) matige Chakalaka
■ 1 blik (440 g) klappermelk
■ Sout, peper en suiker na smaak
■ 4 porsies stokvis
Tamatie-en-uiesalsa
■ 1 ui, baie fyn gekap
■ 3 tamaties, pitte verwyder en baie fyn gesnipper
■ 60 ml baie fyn gekapte vars koljanderblare
■ Sout, witpeper en ’n knippie strooisuiker
■ Spatsel wit asyn of vars suurlemoensap
Verhit die olyfolie of botter saam in ’n pan en braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die Chakalaka en klappermelk by en verhit tot kookpunt.
Prut die sous tot dit effens afgekook is en geur na smaak met sout, peper en ’n knippie suiker. Sit die porsies stokvis in die sous en bedek. Laat prut verder vir ongeveer 6 minute, of tot die vis gaar is en maklik vlok. Meng die ui, tamaties, koljanderblare, sout, peper, strooisuiker en asyn of suurlemoensap.
Sit die viskerrie voor met gestoomde rys, skep van die sous oor en rond af met ’n skeppie van die salsa. Lewer 4 porsies.