Quantcast
Channel: Resepte – Landbou
Viewing all 268 articles
Browse latest View live

Plaaskombuis (2): Vleisie oor die kole

$
0
0

Die Louws van Bulshoek buite Clanwilliam is bobaas-braaiers. Vandeesweek op Plaaskombuis proe Elma ’n paar lekkernye van hul braairoosters af.

David-Thys Louw is die derde geslag wat op die plaas Bulshoek buite Clanwilliam met sowat 4 500 varke boer. Hy is nie net ’n varkboer in murg en been nie, maar die Louws is ook bekend as mense wat weet hoe om vleis (veral oor die kole) gaar te maak. Hy glo nie regtig daaraan om ’n resep te volg nie, maar “doen eerder sy eie ding” – met die hulp van sy ma, Sisteen, en vrou, Laré.

“Die ou mense het mos geglo varkvleis moet dóód gebraai word. Dis absolute onsin!” sê David-Thys, bykans ontstig. “Dis ’n probleem dat baie mense nie weet hoe om varkvleis te braai nie. Varkvleis is baie gesond, en as daar so ’n klein vetjie aan is, is dit veral verskriklik lekker.”

Gevulde varkfillet oor die kole
’n Varkfilet oor die kole is een van David-Thys se spesialiteite. Hy vul die filet met wat ook al in die yskas is. Speel rond met geure waarvan jy hou. Onthou net om nie die filet dood te braai nie. Die vleis moet net gaar wees sodat die natuurlike sappigheid behoue kan bly.
■ 1 groot varkfilet
■ Sout en swartpeper na smaak
■ 30 ml heelkorrelmosterd
■ 125 g (halwe houer) roomkaas
■ 15 ml vars tiemie, fyn gekap
■ 50 g ontpitte gemengde olywe, grof gekap
■ Olyfolie en braaisous van jou keuse

Vlek die filet oop, maar wees versigtig om nie dwarsdeur te sny nie. Geur die vleis goed met sout en peper. Smeer ’n lagie heelkorrelmosterd egalig oor die binnekant. Meng die roomkaas en tiemie goed en smeer ’n dik laag daarvan oor die mosterd. Sprinkel nou die gekapte olywe oor en vou die filet weer toe om die vulsel. Bind vas met kombuistou en smeer die buitekant van die filet met olyfolie. Geur ook buiteom goed met sout en peper. Braai die filet oor matige kole tot halfgaar. Begin verf dit nou met braaisous ná elke draai. Braai tot gaar na smaak en haal die vleis van die rooster af. Bedek en laat vir minstens 7 minute rus. Sny in porsies en sit voor met ’n aartappelgereg en slaai of groente. Lewer 8 porsies.

MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.


Blitsige stokviskerrie

$
0
0

Die kerrie proe of jy ure daaraan bestee het. Niemand sal jou glo dat dit jou letterlik 10 minute gekos het om saam te slaan en dat ’n paar blikkies deel is van die lys bestanddele nie. Die tamatie-en-uiesalsa sorg vir ’n vars geurinspuiting.

■ 15 ml olyfolie of botter
■ 2 uie, dun gesny
■ 2 knoffelhuisies, fyn gedruk
■ 1 blik (420 g) matige Chakalaka
■ 1 blik (440 g) klappermelk
■ Sout, peper en suiker na smaak
■ 4 porsies stokvis

Tamatie-en-uiesalsa
■ 1 ui, baie fyn gekap
■ 3 tamaties, pitte verwyder en baie fyn gesnipper
■ 60 ml baie fyn gekapte vars koljanderblare
■ Sout, witpeper en ’n knippie strooisuiker
■ Spatsel wit asyn of vars suurlemoensap

Verhit die olyfolie of botter saam in ’n pan en braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die Chakalaka en klappermelk by en verhit tot kookpunt.

Prut die sous tot dit effens afgekook is en geur na smaak met sout, peper en ’n knippie suiker. Sit die porsies stokvis in die sous en bedek. Laat prut verder vir ongeveer 6 minute, of tot die vis gaar is en maklik vlok. Meng die ui, tamaties, koljanderblare, sout, peper, strooisuiker en asyn of suurlemoensap.

Sit die viskerrie voor met gestoomde rys, skep van die sous oor en rond af met ’n skeppie van die salsa. Lewer 4 porsies.

Tuna-kerrie-en-rys

$
0
0

■ 30 ml botter
■ 1 ui, dun gesny
■ 1 rooi soetrissie, ontpit en dun gesny
■ 10 ml kerriepoeier
■ 2 ml borrie
■ 2 ml komyn
■ 250 ml witrys
■ 500 ml vis- of groenteaftreksel
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ 1 blik (170 g) tuna, gedreineer
■ 375 ml bevrore ertjies
■ 3 gekookte eiers, afgedop en in wiggies gesny

Verhit die botter in ’n pan en braai die ui en soetrissie daarin tot sag. Voeg die kerriepoeier, borrie en komyn by en braai tot geurig. Voeg die rys by en braai tot die ryskorrels met ’n vet-en-speserylagie bedek is.

Voeg die aftreksel by en geur liggies met sout en peper. Verhit tot kookpunt, draai die hitte laag en bedek die pan. Prut vir ongeveer 20 minute oor lae hitte tot die rys al die vloeistof geabsorbeer het. Voeg die tuna en ertjies by en meng liggies deur.

Bedek en laat stoom vir nog 5-10 minute. Rond af met wiggies gekookte eier en sit voor met slaai. Lewer 4-5 porsies.

Mielieblom-souskluitjies

$
0
0

Aletta het dié resep gekry in ’n ou resepteboek van die Bredasdorp-tak van die Vrouelandbouvereniging wat aan haar oorlede ma behoort het.

  • 1 liter melk
  • 320 ml mielieblom
  • 5 ekstragroot eiers, geskei
  • 125 ml suiker
  • Knippie sout
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 250 ml kaneelsuiker
  • 250 ml gesmelte botter

Meng ’n bietjie van die melk met die mielieblom om ’n gladde pasta te vorm. Voeg die eiergele by die mielieblommengsel. Verhit die res van die melk saam met die suiker, sout en vanieljegeursel. Voeg die mielieblommengsel by en roer vinnig tot dit dik word. Verwyder van die hitte.

Klop die eierwitte tot stywe punte vorm en vou dit by die mielieblompap in. Sprinkel ’n lagie kaneelsuiker onderin ’n gesmeerde glasbak. Skep lepels vol van die mielieblommengsel op die suiker. As die eerste lagie klaar is, strooi kaneelsuiker oor en skep ook van die gesmelte botter oor elke kluitjie (die botter sorg dat die kluitjies nie aan mekaar vaskleef nie).

Herhaal die lae en eindig met ’n laag kaneelsuiker. Sit voor met dun vla. Lewer 6 porsies.

Gebakte aartappels met tunavulsel

$
0
0

■ 4 middelslag-aartappels
■ Olyfolie en seesout Tunavulsel
■ 1 blikkie (170 g) tuna, goed gedreineer
■ Halwe houer (ongeveer 125 g) gladde maaskaas
■ 30 ml natuurlike volroomjogurt OF suurroom
■ Fyngerasperde skil en sap van ’n halwe suurlemoen
■ 3 agurkies, baie fyn gesnipper
■ Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
■ Gesnipperde ui, tamatie en agurkie om mee voor te sit

Voorverhit die oond tot 190°C en voer ’n bakplaat met foelie uit.

Was die aartappels en droog baie goed af. Prik elke aartappel ’n paar keer met ’n vurk en vryf dan goed in met olyfolie. Sprinkel seesout oor elke aartappel en vryf dit ook egalig oor die aartappels.

Sit op die bakplaat en bak vir ongeveer 1 uur (die baktyd sal afhang van die grootte van die aartappels), tot die skille goudbruin en bros en die aartappels sag is. Haal uit die oond en rol elke aartappel liggies tussen jou hande in ’n vadoek (dit veroorsaak dat die binnekant sag en donsig is en nie ferm, soos gekookte aartappels, nie.)

Vir die vulsel: Meng die tuna, maaskaas, jogurt of suurroom, suurlemoenskil- en sap en agurkies saam. Geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. Sodra die aartappels reg is, sny ’n kruis bo-op elkeen en druk die aartappels liggies sodat die kruis effens oopmaak.

Geur liggies met sout en peper. Skep die tunavulsel op elke aartappel, geur na smaak en rond af met ’n bietjie gesnipperde ui, tamatie en agurkie. Sit dadelik voor. Lewer 4 porsies.

Plaaskombuis (3): Soetpatat en skons uit Kitta se kombuis

$
0
0

Die plaas Steenbokfontein staan met sy voete in die koue Weskuswater van Lambertsbaai. Hier, in haar plaaskombuis waar die houtstoof gesellig brand, maak Kitta Burger egte Namakwalandse boerekos.

Toe sy meer as 25 jaar gelede besluit het om haar eie kuierplekkie op die plaas te begin, kon sy nie eens ’n skon bak nie, verklap Kitta Burger.

Vandag haal sy die een ná die ander boerekos-lekkerny uit haar Dover-koolstoof se pens: Die ou bekendes, soos potgebraaide lamsvleis, sagopoeding of veldkoolbredie, asook haar befaamde diepgoue anyspatats en veerligte skons.

Tant Myntjie se skons:
■ 8 x 250 ml (8 koppies) koekmeel
■ 60 ml gesmelte botter
■ 80 ml bakpoeier
■ Knippie sout
■ 30 ml suiker
■ 60 ml baie sagte botter
■ 800 ml melk
■ 8 eiers

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit. Gooi die meel in ’n groot mengbak, drup die gesmelte botter daaroor en vryf dit goed by die meel in. Voeg die bakpoeier, sout en suiker by en meng deur. Voeg die baie sagte botter by en sny dit in. Klits die melk en eiers saam en voeg dit bietjie vir bietjie by die droë bestanddele, terwyl dit ingesny word (moenie te veel meng nie). Sodra ’n deeg vorm, keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak, druk die deeg met jou hande plat en druk skons uit. Pak op die bakplate en bak vir ongeveer 15 minute, tot goudbruin en gaar. Sit voor met botter, konfyt en kaas. Lewer 30 skons.

MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.

* Klik hier om die resep oor die patats te lees.

Tunakoekies

$
0
0

■ 2 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny
■ 1 blik (170 g) tuna, goed gedreineer
■ 60 ml fyngekapte vars pietersielie
■ 1 ekstragroot eier
■ Mespunt peperwortelroom (horseradish cream)
■ Sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Olie, vir braai

Kook die aartappels in ’n pot soutwater tot sag, dreineer en druk fyn.

Meng die fyngedrukte aartappels, tuna, pietersielie, eier, peperwortelroom, suurlemoensap en -skil en sout en peper na smaak. Bedek en verkoel vir minstens 30 minute, of tot die mengsel ferm genoeg is om koekies te vorm.

Braai die viskoekies in ’n bietjie olie tot goudbruin aan albei kante en deurgaar. Sit voor met slaai of groente en ’n suurroom- of tartaarsous. Lewer 4-5 viskoekies.

Soet, gestoofde anyspatats

$
0
0

Ek het gedink ek ken lekker soetpatats, maar Kitta se plan om anys te gebruik om die patats te geur, is ’n heel nuwe lekkerte. (Meer oor Kitta in Plaaskombuis 3)

­Growwe sout
6 patats
30-45 ml botter
Suiker na smaak
30 ml fyn anys

Los die growwe sout in ’n bak met water op. Skil die patats en sny in blokkies. Sit dit dadelik in die soutwater om te verhinder dat die patats swart word. Smelt die botter in ’n swaarboomkastrol en voeg die patats en suiker by. Sprinkel die anys oor. Bedek en stowe die patats oor lae hitte. Skud die kastrol kort-kort sodat dit nie aanbrand nie. Lewer 6-8 porsies.


Oudtydse soetkerrie

$
0
0

■ 2 kg stowe- of potjiekos-skaapvleis, in stukkies gesny
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Meel om vleis te bestuif
■ Olie en botter vir braai
■ 1 groot ui, fyn gekap
■ 2 knoffelhuisies, gekneus
■ 15-20 ml kerriepoeier
■ 10 ml borrie
■ 10 ml fyn komyn
■ 5 ml gemaalde koljander
■ 750 ml beesvleisaftreksel
■ 4 wortels, gerasper

Geur die vleis goed met sout en peper en rol in die meel. Skud oortollige meel af. Verhit die olie en botter in ’n diep pot en braai die vleis, bietjies op ’n slag, tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.

Braai die ui en knoffel in dieselfde kastrol en geur liggies met sout. Sit die kerriepoeier, borrie, komyn en koljander by die uiemengsel en braai tot geurig. Skep die vleis terug in die pot en roer totdat die speserymengsel die vleis bedek het.

Giet die aftreksel by en prut tot sag, terwyl jy elke nou en dan roer. Roer die wortels by en sit voor saam met vars koljanderblare, rys en tamatiesalsa. Lewer 6 porsies.

Varkworsiepasteie

$
0
0

■ 4 varkworsies van goeie gehalte
■ 1 rol (400 g) skilferkorsdeeg
■ 5 ml gladde appelkooskonfyt
■ 5 ml Dijon-mosterd
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ 1 eier, geklits

Stoom of posjeer die varkworsies tot net-net gaar, skep uit en laat heeltemal afkoel. Voorverhit die oond tot 200°C en voer ’n bakplaat uit met foelie.

Spuit liggies met kleefwerende kossproei. Rol die deeg dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en sny in vier ewe groot blokke. Meng die konfyt en mosterd saam en smeer ’n baie dun lagie daarvan op elke blok deeg. Sprinkel ’n bietjie sout en peper oor.

Vou ’n varkworsie in elke stuk deeg toe en seël die kante goed met ’n vurk. Pak die pasteie op die voorbereide bakplaat. Verf elke pastei met geklitste eier en bak vir ongeveer 15 minute, of tot die deeg goudbruin en bros is.

Laat die pasteie ’n paar minute afkoel en sit dan voor met ’n slaai van jou keuse en ’n lekker, tuisgemaakte tamatiesous-blatjang. Lewer 4 porsies.

Gekrummelde varktjops

$
0
0

■ 4 groot, dik gesnyde varktjops
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Sowat 80 ml meel
■ 3 ml mosterdpoeier
■ 3 eiers
■ 500 ml droë broodkrummels
■ Olie vir vlakbraai
■ Vars suurlemoensap
■ Aartappels
■ Mosterd (gekoopte mosterd)

Geur die varktjops met sout en peper. Meng die meel en mosterdpoeier en gooi in ’n plat bak. Klits die eiers in ’n ander plat bak. Gooi die krummels in ’n derde plat bak.

Bestuif die gegeurde tjops met die meel en skud die ergste meel af. Doop elke tjop in die eier en bedek dit daarna met die broodkrummels. Laat rus die gekrummelde vleis in die yskas vir sowat 1 uur of vir sowat 20 minute in die vrieskas.

Voorverhit die oond tot 180°C en verhit die olie in ’n vlak pan. Braai die tjops tot groudbruin aan albei kante en skep die gebraaide vleis bo-op ’n bakplaat. Bak die vleis vir sowat 15 minute of tot gaar.

Sit voor saam met ’n aartappelgereg, slaai en mosterd. Lewer 4 porsies.

Plaaskombuis 4: Rooibos-roosterkoek

$
0
0

Op Erik en Melinda de Milander se plaas, Oude Muur, Clanwilliam, word gekook en gebak met wat die omgewing en seisoen voorsien.

Erik de Milander van Oude Muur in die Sederberg is ’n kosmens: ’n Man met ’n sak vol “truuks” om die beste te haal uit plaaslike kos, soos die waterblomme, makataan, rooibos en skape waarmee hy boer. Erik is ietwat van ’n legend in dié geweste. Nie net ’n uitstekende kok nie, maar ook ’n gasvrye storieman en grapjas, én die wêreldrekordhouer vir die meeste skaapkoppe wat op een dag op een perseel voorberei en geëet is.

Hier, buite Clanwilliam, waar die De Milanders boer, is dit rooiboswêreld. En omdat Erik en sy vrou, Melinda, graag kosmaak met wat op die plaas en in die omgewing beskikbaar is, maak rooibos gereeld ’n verskyning in hul boerekos-wenresepte.

“Rooibostee is soos ’n impakspeler wat laat in die wedstryd op die veld kom, en dan is hy sommer man of the match ook!” skerts Erik.

Lena Swarts is Oude Muur se bobaas roosterkoek-maker. “Ek ken alles van broodmaak. My arms is lekker sterk van al die knie,” vertel sy terwyl sy behendig die warm rooibostee-roosterkoeke op die rooster omdraai.

Die rooibostee gee ’n besonderse kleur en geur aan die tradisionele lekkerny. Die De Milanders sit Lena se rooibosroosterkoek voor met plaasbotter, makataansnippers en beleë cheddarkaas.

■ 6 x 250 ml witbroodmeel
■ 15 ml kitsgis
■ 3 ml sout
■ Genoeg louwarm, sterk rooibostee

Meng die meel, gis en sout in ’n bak. Voeg genoeg louwarm rooibostee by om ’n stywe deeg te vorm. Knie goed. Sit in ’n groot bak met ’n deksel en laat rys op ’n warm plek. Knie die deeg af en laat rys weer. Knyp of sny stukke deeg af en vorm in bolletjies. Druk dit dan effens plat. Plaas op die rooster oor matige kole en draai dit gereeld om sodat dit nie brand nie. As die roosterkoek eweredig gerooster is, lig voel en hol klink, is dit gaar. Sit voor met plaasbotter, makataansnippers en gerasperde kaas. Lewer 20 roosterkoeke.

MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.

Osso bucco

$
0
0

■ 6-10 stukke beesskenkel (beef shin) in dik skywe gesny
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Sowat 60 ml meel
■ 30 ml olyfolie
■ 30 g botter
■ 1 ui, grof gekap
■ 2 knoffelhuisies, grof gekap
■ 4 wortels, in stukke gesny
■ 2 selderystingels, grof gekap
■ 250 ml rooiwyn
■ 2 blikke kersietamaties (of gewoon)
■ 60 ml tamatiepasta
■ 250 ml beesvleisaftreksel

Gremolata
■ Skil van 2 groot suurlemoene
■ 100 ml Italiaanse pietersielie
■ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
■ Olyfolie om alles te meng

Geur die vleisstukke met sout en vars gemaalde swartpeper. Bestuif elke stuk vleis met meel en hou eenkant.

Verhit van die olie en botter in ’n mediumgroot pot en braai die stukke bietjies op ’n slag tot goudbruin en skep in ’n oondbak. Braai die uie en knoffel in dieselfde pot en geur met sout en peper.

Roer die wortels en seldery daarby en braai tot geurig. Roer die rooiwyn, tamaties, tamatiepasta en beesvleisaftreksel by en bring tot kookpunt. Prut vir ’n paar minute totdat die sous effens verdik.

Voorverhit die oond tot 160°C. Giet die sous oor die vleis, bedek met foelie en bak vir sowat 2-3 uur of totdat die vleis sag is. (Onthou, dis nie ’n baie loperige sous nie; roer dus die vleis elke 30 minute sodat die sous nie brand nie.)

Meng die bestanddele vir die Gremolata en sprinkel oor die vleis sodra dit uit die oond kom. Lewer 4-6 porsies.

Kasslertjop-en-aartappelgebak

$
0
0

Die aand as dit op die spyskaart is, beteken dit min skottelgoed en gelukkige huismense!

■ 4 groot aartappels, geskil en in dik skywe gesny
■ 4 Kasslertjops, onder koue water afgespoel en droog gedruk
■ Vars gemaalde swartpeper
■ 3 snye growwe brood
■ 10 ml vars tiemieblaartjies
■ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 30 ml olie of gesmelte botter

Jogurt-en-mosterdsous
■ 125 ml natuurlike jogurt
■ 5 ml heelkorrelmosterd
■ 5 ml heuning
■ ’n Skeut suurlemoensap
■ Sout en swartpeper na smaak

Voorverhit die oond tot 190°C en smeer ’n bakplaat met olie.

Kook die aartappelskywe in ’n pot soutwater tot net-net sag. Dreineer goed en pak die aartappels op die bakplaat. Versprei dit goed. Pak die tjops op die gaar aartappels en geur met swartpeper (Kasslertjops is klaar baie sout.)

Pols die brood, tiemie, knoffel en olie of botter in ’n voedselverwerker tot krummels en sprinkel egalig oor die tjops en aartappels. Bak vir ongeveer 20 minute tot die tjops gaar en die krummels goudbruin en bros is.

Meng die bestanddele vir die jogurtsous saam en sit elke porsie voor met ’n bietjie van die sous oorgeskep. Sit die gereg voor met ’n komkommer- of koolslaai. Lewer 4 porsies.

Brandbone met eiers

$
0
0

■ 30 ml olie
■ 1 ui, gekap
■ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 1 blik (420 g) gebakte bone in tamatiesous
■ 1 blik (440 g) sterk chakalaka
■ Sout, vars gemaalde swartpeper en ’n knippie suiker na smaak
■ 4 ekstragroot eiers, teen kamertemperatuur

Verhit die olie in ’n pan en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die bone en chakalaka by en verhit tot kookpunt. Geur met sout, peper en ’n knippie suiker en prut tot die sous effens afgekook en nie meer waterig is nie.

Maak vier holtes in die bonemengsel met die agterkant van ’n lepel en breek ’n eier in elke holte. Geur die eiers bo-op met sout en peper. Sit ’n deksel op en prut vir sowat 5-7 minute, of tot die eiers gaar is na smaak.

Sit voor met roosterbrood of op krummelpap. Lewer 4 porsies.


Aarbei-tralietert

$
0
0

Tertkors
■ 680 ml koekmeel
■ Knippie sout
■ 15 ml strooisuiker
■ 230 g koue botter, in blokkies gesny
■ 80-160 ml yswater

Vulsel
■ 600 g aarbeie, skoongemaak en grof gesnipper
■ 375 ml strooisuiker
■ 60 ml mielieblom
■ Paar druppels vars suurlemoensap

Kors: Pols die meel, sout, strooisuiker en botter in ’n voedselverwerker tot krummelrig. Voeg die yswater bietjie vir bietjie by en pols vinnig ná elke byvoeging – net tot klam frummels vorm. Keer uit en druk die deeg bymekaar. Bedek en verkoel vir minstens 1 uur.

Smeer ’n losboomtertpan van 20 cm, of spuit met kleefwerende kossproei. Haal die deeg uit die yskas, laat staan ’n rukkie en verdeel dit in twee dele, waarvan die een stuk ’n bietjie groter as die ander is. Rol die grootste stuk deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer die tertpan daarmee uit. Sny die kante netjies en prik die boom met ’n vurk. Verkoel terwyl jy die vulsel maak.

Voorverhit die oond tot 180°C. Meng die aarbeie, suiker, mielieblom en suurlemoensap in ’n bak en keer dit uit in die voorbereide kors. Maak dit so gelyk as moontlik bo-op. Rol die orige stuk deeg dun uit en sny dit in lang, reguit repe (jy kan dikker en dunner repe sny en selfs dun repies deeg vleg, soos op die foto).

Versier die tert bo-op in ’n traliepatroon met die repe deeg sodat daar van die vulsel sigbaar is tussen die deegrepe. Voer ’n bakplaat met foelie uit en sit die tert daarop. Bak vir 1 uur, tot die vulsel borrel en die deeg goudbruin en bros is. Haal uit die oond en laat die tert afkoel tot kamertemperatuur voor jy dit sny. Sif versiersuiker oor en sit voor met geklopte room.

Lewer 10-12 porsies.

Plaaskombuis 5: Koningskos in die Kamiesberg

$
0
0

Vir Berto en Sulene Archer van die plaas Taaiboskraal, doer hoog bo Kamieskroon in die Kamiesberg, is daar niks lekkerders as hul kontrei se plaaskos nie. As jy eers Sulene se afval en boermeelplaasbrood geproe het, sal jy saamstem!

Sulene bak haar wonderlike, tuisgemaakte brood met ’n mengsel van boermeel (koring wat net gemaal is en glad nie verder verwerk is nie) en broodmeel.

Die geur en tekstuur van boermeelbrood is wonderlik. Pap wat van boermeel gekook word, is ook ’n bekende ontbytkos in die streek. As jy nie boermeel in die hande kan kry nie, vervang dit met dieselfde hoeveelheid bruinbroodmeel.

Boermeel-plaasbrood
■ 5 x 250 ml (5 k) boermeel
■ 3 x 250 ml (3 k) witbroodmeel
■ 10 ml sout
■ 15 ml suiker
■ 1 pakkie (10 g) kitsgis
■ 30 ml asyn
■ 1 liter louwarm water
■ Koringkorrels of gemengde sade, om oor te sprinkel

Smeer of bespuit twee broodpanne goed met kleefwerende kossproei – die brood is geneig om vas te sit. Meng die boermeel, witbroodmeel, sout, suiker en kitsgis saam. Meng die asyn met louwarm water en voeg dit by die meelmengsel. Roer die mengsel vir ongeveer 5 minute met ’n houtlepel. (Dit moet ’n slapperige mengsel wees. Voeg nog water by as die deeg te styf is.) Skep in twee middelslag-broodpanne en maak jou panne toe met ’n geoliede sak. Sit dan in ’n kombers en laat dit vir 20-30 minute op ’n warm plek rys tot die panne vol gerys is. (Aangesien die deeg slap is, is dit geneig om aan die sak vas te kleef. As dit gebeur, skraap die deeg met ’n deegskraper af.) Terwyl die deeg rys, voorverhit die oond tot 180 °C. Sprinkel ’n bietjie koring of gemengde sade oor die uitgerysde deeg en bak die brode vir ongeveer 1 uur tot goudbruin, deurgaar en uitgerys. Lewer 2 brode.

MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.

Aarbeimousse

$
0
0

■ 600 g aarbeie, skoongemaak en gesnipper
■ 125 ml versiersuiker
■ 30 ml koue water
■ 15 ml gelatien
■ 250 ml room
■ 2 ml vanielje-ekstrak

Sit die aarbeie en versiersuiker in ’n voedselverwerker en verpulp tot heeltemal glad. Giet in ’n bak. Sit die koue water in ’n aparte bakkie en sprinkel die gelatien bo-oor. Laat staan vir minstens 5 minute tot die gelatien die water geabsorbeer het.

Smelt die mengsel teen lae krag in die mikrogolf, maar wees versigtig dat dit nie kook nie. Sodra die gelatienmengsel glad is, roer dit by die aarbeipulp. Verkoel tot die mengsel net-net wil begin stol. Klop die room en vanielje-ekstrak saam styf.

Roer 30 ml van die room by die aarbeimengsel in, net om die mengsel ligter te maak, en vou dan die res van die room versigtig in. Skep die mengsel in glase of bakkies en verkoel tot nodig. Lewer 4-6 porsies.

Sjokolade-en-aarbei gebakte Alaska

$
0
0

Die konsep van roomys wat in die oond gebak word en steeds gevries anderkant uitkom, maak nie sin nie, maar bly wonderlik.

Koek
■ 125 g botter
■ 100 g donker sjokolade
■ 180 ml sterk filterkoffie
■ 250 ml suiker
■ 250 ml bruismeel
■ 20 ml kakao
■ 1 eier
■ 5 ml vanieljegeursel

Roomys
■ 1 liter vanieljeroomys
■ 375 ml fyngesnipperde aarbeie
■ 15 ml fyngekapte, vars kruisement

Meringue
■ 5 eierwitte
■ 250 ml strooisuiker
■ 10-15 ml roosstroop

Koek: Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n pan van 20 cm. Voer uit met bakpapier en smeer weer.

Smelt die botter, sjokolade en koffie saam oor lae hitte. Voeg die suiker by, verwyder van die hitte en roer tot die suiker opgelos is. Sif die meel en kakao saam in ’n mengbak. Klits die eier en vanieljegeursel saam en voeg by die sjokolademengsel.

Voeg by die droë bestanddele en meng goed tot ’n gladde beslag. Skep in die pan en bak vir 35-45 minute tot deurgaar. Laat vir 10 minute in die pan afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om verder af te koel.

Sodra die koek koud is, sny dit in twee dunner lae en smeer aarbeikonfyt op die onderste laag. Sit die ander helfte bo-op.

Roomys: Maak die vanieljeroomys effens sag en voeg die aarbeie en kruisement daarby. Vries weer tot hard en skep bolle van die roomys op die sjokoladekoek.

Maak seker jy los ’n rand van 5 cm reg rondom oop. Sit die koek met roomys in die vrieskas terwyl jy die meringue maak.

Voorverhit die oond tot 250°C. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits, tot die mengsel dik en blinkwit is. Klits die roosstroop by.

Sit die koek op ’n oondvaste bord en skep die meringue boop die roomys en koek. Smeer die roomys en koek toe met die meringue (maak seker daar steek niks uit nie, anders smelt die roomys).

Bak vir ’n paar minute, net tot die meringue gerooster is. Haal uit die oond en sit dadelik voor met aarbei- of sjokoladesous. Lewer 14-16 porsies.

Meringueroulade met geroosterde aarbeie

$
0
0

Aarbeie pas so goed by room en meringue en in hierdie resep word al drie gekombineer. Deur die aarbeie vir die vulsel te rooster, gee jy dit ’n intense aarbeismaak en ekstra soetheid.

Geroosterde aarbeie
■ 100 g aarbeie, skoongemaak en gehalveer
■ 30 ml strooisuiker

Roulade
■ 6 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
■ 1 ml sout
■ 125 ml strooisuiker
■ 125 ml klapper
■ 10 ml mielieblom

Vulsel
■ 250 ml room
■ 80 ml strooisuiker
■ 5 ml vanieljegeursel
■ Versiersuiker om oor te sif.

Voorverhit die oond tot 180°C en voer twee rolkoekpanne uit met bakpapier. Smeer die bakpapier liggies met olie of spuit met kleefwerende kossproei.

Skep die aarbeie op die een bakplaat en versprei egalig. Sprinkel strooisuiker oor en oondrooster vir ’n paar minute, tot die suiker borrel en ’n taai stroop vorm. Laat afkoel.

Klits die eierwitte en sout saam tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tussen byvoegings tot al die suiker opgebruik en die mengsel dik en blinkwit is.

Sprinkel die klapper oor en sif die mielieblom bo-oor. Vou versigtig in met ’n metaallepel. Skep die meringue in die voorbereide pan en smeer egalig. Bak vir 20-25 minute tot die bokante van die meringue goudbruin en bros en die binnekant nog sag is.

Haal uit die oond, sit ’n groot genoeg vel bakpapier bo-op die meringue en keer die pan om sodat die meringue op die vel bakpapier lê. Trek die bakpapier versigtig van die onderkant af en laat die meringue so afkoel.

Sodra die meringue koud genoeg is (ná ongeveer 15 minute), klits die room, strooisuiker en vanieljegeursel saam styf. Voeg die geroosterde aarbeie by die room en vou in. Smeer die vulsel oor die meringue en rol op.

Sif versiersuiker oor en sit dadelik voor. Lewer 8-10 porsies.

Viewing all 268 articles
Browse latest View live