■ 2 uie, gekap
■ Olie
■ 1 kg beesmaalvleis
■ 1 groot patat, in blokkies gesny
■ 15 ml kerriepoeier of garam masala
■ 15 ml borrie
■ 5 ml bruinsuiker
■ 45 ml blatjang
■ 125 ml gedroogte appelkose
■ Sout en peper
■ 1 sny volgraanbrood
■ 1 eier, liggies geklits
■ 60 g botter
■ 4 eiers
■ 125 ml amandelsplinters of -vlokkies (opsioneel)
Verhit ’n groot braaipan en braai die uie in ’n skeut olie tot deursigtig. Voeg die maalvleis by en hou aan roer tot die maalvleis gaar en krummelrig is. Voeg die patat, kerriepoeier, borrie, suiker, blatjang en appelkose by. Meng goed. Geur en haal dan van die warm plaat af.
Week die brood in ’n bietjie water en druk daarna die water uit. Druk die brood fyn en meng by die geklitste eier in. Voeg dit by die maalvleismengsel en meng deur. Kook die bobotiemaalvleis terwyl jy deurgaans roer tot dit gaar is.
Maak klein holtes in die maalvleis en stip elk met ’n klontjie botter. Wanneer die botter gesmelt is, kan jy ’n eier in elke holte breek. Kook tot gaar na smaak. Sit voor saam met die amandels (opsioneel), vrugteblatjang en ’n vars mengelslaai. Lewer 6 porsies.
Min moeite – en nog minder skottelgoed!
Die lewe is besig genoeg. Spaar tyd en elektrisiteit met ’n rits opwindende resepte vir etes wat in een bak, een pot of op een bakplaat gemaak word.
Die bekende broer-en-susterspan, Callie Maritz en Mari-Louis Guy, maak die lewe makliker met hul nuwe boek, EEN pot/pan/bakplaat. Moeitelose, geurige resepte en vars smaakkombinasies met bees, hoender, varkvleis, wors en vleislose geregte, om maar ’n paar van die afdelings te noem.
EEN pot/pan/bakplaat is ideaal vir besige kokke, ma’s en pa’s wat nuwe aandete-idees soek en almal wat ná ete gewoonlik ’n hoop kastrolle, bakplate en panne moet was! EEN pot/pan/bakplaat is by alle boekwinkels te kry en kos R280.