Aarbeie pas so goed by room en meringue en in hierdie resep word al drie gekombineer. Deur die aarbeie vir die vulsel te rooster, gee jy dit ’n intense aarbeismaak en ekstra soetheid.
Geroosterde aarbeie
■ 100 g aarbeie, skoongemaak en gehalveer
■ 30 ml strooisuiker
Roulade
■ 6 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
■ 1 ml sout
■ 125 ml strooisuiker
■ 125 ml klapper
■ 10 ml mielieblom
Vulsel
■ 250 ml room
■ 80 ml strooisuiker
■ 5 ml vanieljegeursel
■ Versiersuiker om oor te sif.
Voorverhit die oond tot 180°C en voer twee rolkoekpanne uit met bakpapier. Smeer die bakpapier liggies met olie of spuit met kleefwerende kossproei.
Skep die aarbeie op die een bakplaat en versprei egalig. Sprinkel strooisuiker oor en oondrooster vir ’n paar minute, tot die suiker borrel en ’n taai stroop vorm. Laat afkoel.
Klits die eierwitte en sout saam tot stywe punte vorm en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits tussen byvoegings tot al die suiker opgebruik en die mengsel dik en blinkwit is.
Sprinkel die klapper oor en sif die mielieblom bo-oor. Vou versigtig in met ’n metaallepel. Skep die meringue in die voorbereide pan en smeer egalig. Bak vir 20-25 minute tot die bokante van die meringue goudbruin en bros en die binnekant nog sag is.
Haal uit die oond, sit ’n groot genoeg vel bakpapier bo-op die meringue en keer die pan om sodat die meringue op die vel bakpapier lê. Trek die bakpapier versigtig van die onderkant af en laat die meringue so afkoel.
Sodra die meringue koud genoeg is (ná ongeveer 15 minute), klits die room, strooisuiker en vanieljegeursel saam styf. Voeg die geroosterde aarbeie by die room en vou in. Smeer die vulsel oor die meringue en rol op.
Sif versiersuiker oor en sit dadelik voor. Lewer 8-10 porsies.