Die aand as dit op die spyskaart is, beteken dit min skottelgoed en gelukkige huismense!
■ 4 groot aartappels, geskil en in dik skywe gesny
■ 4 Kasslertjops, onder koue water afgespoel en droog gedruk
■ Vars gemaalde swartpeper
■ 3 snye growwe brood
■ 10 ml vars tiemieblaartjies
■ 2 knoffelhuisies, fyn gekap
■ 30 ml olie of gesmelte botter
Jogurt-en-mosterdsous
■ 125 ml natuurlike jogurt
■ 5 ml heelkorrelmosterd
■ 5 ml heuning
■ ’n Skeut suurlemoensap
■ Sout en swartpeper na smaak
Voorverhit die oond tot 190°C en smeer ’n bakplaat met olie.
Kook die aartappelskywe in ’n pot soutwater tot net-net sag. Dreineer goed en pak die aartappels op die bakplaat. Versprei dit goed. Pak die tjops op die gaar aartappels en geur met swartpeper (Kasslertjops is klaar baie sout.)
Pols die brood, tiemie, knoffel en olie of botter in ’n voedselverwerker tot krummels en sprinkel egalig oor die tjops en aartappels. Bak vir ongeveer 20 minute tot die tjops gaar en die krummels goudbruin en bros is.
Meng die bestanddele vir die jogurtsous saam en sit elke porsie voor met ’n bietjie van die sous oorgeskep. Sit die gereg voor met ’n komkommer- of koolslaai. Lewer 4 porsies.