Op Erik en Melinda de Milander se plaas, Oude Muur, Clanwilliam, word gekook en gebak met wat die omgewing en seisoen voorsien.
Erik de Milander van Oude Muur in die Sederberg is ’n kosmens: ’n Man met ’n sak vol “truuks” om die beste te haal uit plaaslike kos, soos die waterblomme, makataan, rooibos en skape waarmee hy boer. Erik is ietwat van ’n legend in dié geweste. Nie net ’n uitstekende kok nie, maar ook ’n gasvrye storieman en grapjas, én die wêreldrekordhouer vir die meeste skaapkoppe wat op een dag op een perseel voorberei en geëet is.
Hier, buite Clanwilliam, waar die De Milanders boer, is dit rooiboswêreld. En omdat Erik en sy vrou, Melinda, graag kosmaak met wat op die plaas en in die omgewing beskikbaar is, maak rooibos gereeld ’n verskyning in hul boerekos-wenresepte.
“Rooibostee is soos ’n impakspeler wat laat in die wedstryd op die veld kom, en dan is hy sommer man of the match ook!” skerts Erik.
Lena Swarts is Oude Muur se bobaas roosterkoek-maker. “Ek ken alles van broodmaak. My arms is lekker sterk van al die knie,” vertel sy terwyl sy behendig die warm rooibostee-roosterkoeke op die rooster omdraai.
Die rooibostee gee ’n besonderse kleur en geur aan die tradisionele lekkerny. Die De Milanders sit Lena se rooibosroosterkoek voor met plaasbotter, makataansnippers en beleë cheddarkaas.
■ 6 x 250 ml witbroodmeel
■ 15 ml kitsgis
■ 3 ml sout
■ Genoeg louwarm, sterk rooibostee
Meng die meel, gis en sout in ’n bak. Voeg genoeg louwarm rooibostee by om ’n stywe deeg te vorm. Knie goed. Sit in ’n groot bak met ’n deksel en laat rys op ’n warm plek. Knie die deeg af en laat rys weer. Knyp of sny stukke deeg af en vorm in bolletjies. Druk dit dan effens plat. Plaas op die rooster oor matige kole en draai dit gereeld om sodat dit nie brand nie. As die roosterkoek eweredig gerooster is, lig voel en hol klink, is dit gaar. Sit voor met plaasbotter, makataansnippers en gerasperde kaas. Lewer 20 roosterkoeke.
MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.