■ 4 varkworsies van goeie gehalte
■ 1 rol (400 g) skilferkorsdeeg
■ 5 ml gladde appelkooskonfyt
■ 5 ml Dijon-mosterd
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ 1 eier, geklits
Stoom of posjeer die varkworsies tot net-net gaar, skep uit en laat heeltemal afkoel. Voorverhit die oond tot 200°C en voer ’n bakplaat uit met foelie.
Spuit liggies met kleefwerende kossproei. Rol die deeg dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak en sny in vier ewe groot blokke. Meng die konfyt en mosterd saam en smeer ’n baie dun lagie daarvan op elke blok deeg. Sprinkel ’n bietjie sout en peper oor.
Vou ’n varkworsie in elke stuk deeg toe en seël die kante goed met ’n vurk. Pak die pasteie op die voorbereide bakplaat. Verf elke pastei met geklitste eier en bak vir ongeveer 15 minute, of tot die deeg goudbruin en bros is.
Laat die pasteie ’n paar minute afkoel en sit dan voor met ’n slaai van jou keuse en ’n lekker, tuisgemaakte tamatiesous-blatjang. Lewer 4 porsies.