Soms kan hulle self nie glo die reuseklip waar die kransduiwe so graag nesskop, staan reg voor hul huis op die plaas Albina nie, se Aletta Engelbrecht. Mense ry kilometers ver om te kom aansit by Bosduifklip, die Engelbrechts se plaasrestaurant buite Lambertsbaai, wat hulle onder dié unieke klip staangemaak het.
Oor die jare heen het dit ’n geliefde kuier-, eet- en trouplek geraak en in die blommetyd besoek busvragte toeriste Bosduifklip om te kom proe wat Kobus en Aletta aanbied. Gebraaide snoek, skaapboud op die spit, soetpatats, plaasbrood, souskluitjies, en hul spesiale mosselsosaties is maar net ’n paar van die lekkernye wat jy hier kan kom proe.
Die resep: Bosduifklip-mosselsosaties (Kyk die video onder aan resep)
■ 1 pak (250 g) repiespek
■ 4-5 agurkies
■ 4 pynappelringe
■ 500 ml bevrore mosselvleis
Laat week ’n paar sosatiestokkies van hout in water.
Knip elke repie spek in die helfte en sny die agurkies en pynappelringe in klein stukkies. Hou eenkant. Ontdooi die mosselvleis en maak dit goed skoon.
Draai elke stukkie mosselvleis in ’n stukkie spek toe en ryg dit op die sosatiestokkies, afgewissel met stukkies agurkie en pynappel.
Braai die sosaties vir 15-20 minute oor matige kole of tot die spek bros en gaar is.
Lewer ongeveer 35 happies.
Volgende week: Varkvleis op die vuur by die Louws van Bulshoek buite Clanwilliam. Skakel op Woensdag om 18:30 in op VIA (kanaal 147) vir nuwe episodes van Plaaskombuis.
MONSANTO is die trotse borg van die televisieprogram Plaaskombuis op VIA (DStv-kanaal 147), Woensdae om 18:30. Dit word aangebied met die samewerking van Landbouweekblad.