■ 375 ml koekmeel
■ 250 ml mieliemeel of fyn polenta, plus 250 ml ekstra, vir rol
■ 5 ml sout
■ 20 ml bakpoeier
■ 10 ml suiker
■ 1 blik (410 g) geroomde suikermielies
■ 2 eiers
■ 125 ml karringmelk of suurmelk
■ 30 ml olyfolie
■ 100 ml basielpesto
Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ’n koekpan van 22 cm goed. Voer die pan uit met bakpapier (boom en kante) en smeer weer.
Meng die koekmeel, 250 ml mieliemeel of polenta, sout, bakpoeier en suiker saam in ’n bak en maak ’n holte in die middel. Klits die mielies, eiers, melk en olyfolie saam en voeg by die droë bestanddele. Roer tot ’n sagte deeg vorm.
Skep die ander 250 ml mieliemeel of polenta in ’n bak. Skep groot lepels van die deeg in die bak mieliemeel en rol dit liggies daarin. Skud oortollige mieliemeel af en pak die mieliemeelbedekte deegbolle teen mekaar in die pan. Maak met ’n skerp mes ’n snit op elke bol deeg en skep ’n bietjie pesto in elke snit.
Bak die brood vir 50-60 minute, of tot deurgaar. (Die brood is gaar as jy ’n toetspen of sosatiestokkie deur die hoogste deel druk en dit skoon uitkom.) Laat vir 15-20 minute in die pan afkoel.
Sit louwarm voor met sagte botter en gerasperde kaas. Lewer 8-10 porsies.